Die rebellie van die slavin: ’n african womanist-perspektief op die stiltes van die slavin in geselekteerde afrikaanse tekste.

No Thumbnail Available

Date

2015

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

University of Fort Hare

Abstract

Die geskiedenis as ʼn refleksie van manlike bydraes en manlike dominansie ignoreer oor die algemeen die bydraes en stemme van vroue. Die stryd teen ʼn patriargale samelewing en die onregte wat teenoor vroue gepleeg is, is nie net ʼn Westerse verskynsel nie, maar vind ook weerklank in Afrika. Die stemme en bestaan van die slavin in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is bykans onopmerkbaar en laat ’n leemte wat steeds min aandag geniet. Om swart te wees, om ’n vrou te wees en om ’n blote besitting te wees, plaas die slavin op driedubbele wyse op die heel laagste rangorde van die koloniale samelewing en bevestig die waardeloosheid van haar bestaan. Hoewel sy in haar daaglikse bestaan belangrike rolle vertolk het, is haar teenwoordigheid as vanselfsprekend aanvaar en haar bestaan geïgnoreer, terwyl sy haar fisiese en emosionele pyn en lyding noodgedwonge in stilte moes verduur. Hierdie studie fokus op die stiltes van die slavin binne die Suid-Afrikaanse konteks. Om hierdie rede word die African womanist perspektief as teoriebasis ingespan. Nie net fokus African womanism spesifiek op die swart vrou in Afrika nie, maar benadruk dit ook hul uitdagings terwyl dit terselfdertyd hul sterk punte erken. Die metodologie sluit die lees vir stilte-leesstrategie in, wat die navorser in staat stel om in die representasie van die stiltes van die slavin binne die teks te delf. Die tekste onder bespreking is Houd-den-bek en Philida van André Brink, Die see van Reza de Wet en Die Kremetartekspedisie van Wilma Stockenström. Hierdie werkswyse het dit moontlik gemaak om vas te stel op watter wyses die interpersoonlike stiltes van die slavin in die geselekteerde tekste vergestalt word en watter meganismes deur die slavin ingespan is om teen hul onderdrukking te rebelleer. Dit het ook die geleentheid geskep om vas te stel of die stiltes van slavinne ooit verbreek was en op watter wyse hulle vryheid kon bekom. Die beeld van die slavin as ʼn stil en inskiklike onderdanige, soos uitgebeeld in die letterkunde, word in hierdie proefskrif bevraagteken. Ondersoek word ingestel na die stiltes van die slavin om vas te stel wat deur hierdie stiltes verberg word. Deur die stiltes aan te spreek, word die leser geforseer om die dikwels negatiewe uitbeelding van die slavin te heroorweeg en word hul stemme hierdeur ontgin. ʼn Kritiese ondersoek na die stiltes van die slavin in die geselekteerde tekste het verrassende bevindings opgelewer. Daar is bevind dat die slavin, hoewel aan slawerny gebonde, tog meganismes ontwikkel het waarmee sy nie alleen haar lewe meer draaglik gemaak het nie, maar ook waarmee sy innerlik weerstand teen slawerny gebied het. Hierdie studie het ook bevind, dat nie alle slavinne in stilte gerebelleer het nie, maar dat daar wel slavinne was wat fisies stem aan hul stryd gegee het, maar dikwels deur hul meesters geïgnoreer was. Die studie word onderneem met die doel om gehoor te gee aan die stiltes van die slavin om haar stryd te belig en ’n herwaardering van haar bydraes tot die geskiedenis te maak, soos in die geselekteerde tekste uitgebeeld. Hopelik sal hierdie stem uit die verlede ʼn bydrae kan lewer om die swart vrou in Suid-Afrika trots op haar herkoms te maak.

Description

Keywords

Slawerny, kolonialisme, patriargie, andersheid, onderdrukking, marginalisering, African womanism, stilte, slavinne, representasie, lesers.

Citation